deur Willie Koorts
Middel-Januarie bel Neil Büchner my. Ek ken hom goed vanweë my betrokkenheid as multimedia aanbieder by ons kerk. Neil is ‘n begaafde sanger, liedjieskrywer en uitstekende kitaarspeler en tree dikwels tydens eredienste op. Neil is deur die bekende gospelsanger, Louis Brittz, gevra om deel te word van ‘n projek waar hulle uitwyk na Sutherland om onder ‘n asemrowende naghemel inspirasie te gaan vind en dan ‘n klompie nuwe liedjies te skryf en op te neem.
Twee ander manne van soortgelyke statuur, Retief Burger (bekende komponis) en Helmut Meijer (musiekregisseur), was ook deel van die projek wat dus beloof om iets spesiaals te word. Terloops, na skool, toe Helmut moes besluit op ‘n studierigting, het sy keuse nogal tussen musiek en astrofisika gelê.
Weens my verbintenis met Sutherland is ek genader om as gidshond deur die sterrevelde te dien.
Die projek sou primêr op die sterrekunde-hoek konsentreer, maar ook die Karoo se uniekheid in daglig verfilm en van sy mense en verskynsels in beeld en klank vasvang. Die donkermaanweek van 13-17 Februarie word gekies wat beteken alles moes binne drie weke gereël word! Die span het uiteindelik uit tien lede bestaan nadat Murray Louw as videoregisseur aangestel is.
Op ‘n perfekte aand het ons Jurg Wagener se sterrewag besoek en die volgende dag die Karoo met sy unieke plantegroei en geologie eerstehands gaan beleef .
‘n Informele kooraand, waar plaaslike kore hul ding kom doen het, is gereël. Die hoogtepunt van dié aand was toe die formidabele viermanskap geantwoord het met ‘n paar liedjies van hul eie.
‘n Sterrewagbesoek is ingesluit en nuutgeskryfde liedjies is opgeneem in bekende landmerke soos die Louw-huis Museum en die geskiedkundige NG-klipkerk. Ons is een aand getrakteer met roosterkoek, braaiwors en koffie terwyl ‘n plaaslike rieldansgroep ons met sang en dans onder die sterrehemel vermaak het.
Na elke belewenis het die kreatiewe manne hulle bietjie afgesonder om die oomblik in ‘n nuwe lied vas te vang. Hulle was besonder produktief deur ongeveer ‘n dosyn nuwe liedjies binne drie dae die lig te laat sien. Een so ‘n geval was tydens my aanbieding oor die grootheid (en grootsheid) van die Heelal toe Retief in ’n stadium uit die vertrek verdwyn om gou sy kop te gaan skoonmaak.
Vir my was dit fassinerend om die geboorte en ontwikkeling van elke nuwe liedjie mee te maak. Orals in en om die huis waar ons gebly het en die plekke wat ons besoek het, het die manne met notaboek byderhand, versies geneurie en bypassende deuntjies op die kitaar getokkel.
Ten slotte moet ek Beetlejuice noem. Op ‘n dag daag daar die oulikste katjie by die huis op wat onmiddellik in almal se harte inkruip. Ek dink dit was Retief wat haar die naam gegee het. Dit was met ‘n swaar hart wat ons haar en Sutherland se sterrehemel uiteindelik moes agterlaat.
Die CD en DVD “In Verwondering” word middel Junie vrygestel.
http://www.youtube.com/watch?v=98YswlW-ab4&feature=youtu.be


